Boef met vlerkies. Sy sit soos ‘n padda in ‘n slang se oogkring.

Annico van Vuuren het die volgende op haar Facebook blad geplaas, en dit gaan jou tone van pure lekkerte laat omkrul.

“Liewe Lesers, behalwe vir wiewassits, kleuter, jeug, toekoms fiksie ens, skryf ek graag diep roerende romanses waarin my karakters in hoogspannende situasies beland en moet kophou.”

“Een van dié lekkerlees hy-en-sy-moet-mekaar-kry heet BOEF MET VLERKIES. Dis ook een van die verhale in OMNIBUS 1.”

Omnibus
http://www.amazon.com/dp/B00N8BEG6C

Boef met vlerkies
http://www.amazon.com/dp/B00FLUCJBW

‘n Paar paragrawe uit waar HY en SY mekaar in die verhaal vir die eerste keer ontmoet:

Drich:
Waar hy pas sy eerste potjie met Piet Smit geloop het, is hy nog woedend. Hy ruk geskok tot stilstand toe hy die meisie tussen sy handlangers sien staan.

Hy sien alles tegelyk:
Die skrape en bloed; die afgeskeurde bloes – hoe sy dit beskermend teen haar vasdruk; die skokgesperde oë.

Skok, wat op hóm oordra: Wat van sy hart af sprei, in sy bene af – óp na sy kop toe. Skok wat ‘n verlammende wete dra: Sy gaan alles kom verongeluk. Sy groot slag – lank beplan, fyn uitgewerk – voordat hy sy gisters finaal wegpak en nuut begin. ‘n Tipiese dom vroumens – wat maak sy hier! Hy kan stik.

Elrica:
Hoe donker en kil lyk hy nie, dink sy verlore, en dis of ‘n nuwe afgrond voor haar oopmaak. Hy is anders, weet sy. Anders as die ander. Net gewone boewe – hulle.

Nie hý nie. Só ‘n persoon het sy nog nooit gesien, of van gehoor of gelees nie. Nie geweet hy kan bestaan nie.

Die ou man begin dadelik senuweeagtig verduidelik sonder dat hý iets hoef te vra. Toe sý antwoord kom, moet sy wonder: kan ‘n mensestem dan die lug regtig kerf? “En nou staan julle hier en tyd mors!“

Swart valkoë swiep tot op Buffel, wat kop onderstebo staan en stof skop: “Jóú oplossing, Don, om haar aan te rand?”

Dan sweepklap hy na die ouer man terug: “En wat van die perd, Henk? Wat van soekgeselskappe? Dink jy nie hulle is al bekommerd oor haar daar by die vakansieoord nie?”

Haar oog word na die bakkie getrek waar ‘n tweede persoon mank besig is om uit te klim. ‘n Gryskopman, nog ouer as Henk, wat langs koue Swartoog kom staan.

Sy word half uit haar waas gelig by die besef dat hy haar met amperse jammerte bekyk. Hy sê nou iets onderlangs aan Swartoog, wat eers ‘n afwerende gebaar maak, maar dan tog vir Gryskop knik.

“Bly jy dan hier – kyk na dié spul,” en vol wrewelrige frustrasie: “Hoe jou danige Chief sulke mense kan verskaf en dan resultate wil verwag, gaan my verstand te bowe! Jy, en jy,” en hy wys na twee van die spul, “kry my sender daar in die bakkie – ek kan nie bekostig dat die selfoon weer dalk nie werk nie. Saal die perd op en maak gou. Bring ‘n hemp en ‘n broek uit my tas. ‘n Tou. ’n Tang. En die sleutels van daardie hek oord toe.”

Die spul mans begin wegglip. Net Swartoog-Staalman, Gryskop en sy bly staan.

Die swart kykers, vir die eerste keer, voel dit haar, waarlik op háár gefokus, hou haar op die een plek vas soos boeie en kettings dit nie sou kon doen nie. Hoekom is hy dan so booskwaad? fladder haar hart verskrik. – Dit kan tog nie wees net omdat sy per toeval hier is waar sy nie moet wees nie?

Hy is briesend. Vir háár – persoonlik. Half verontwaardig skud sy die skok ‘n bietjie van haar af.

Haar blik op hom is nou ondersoekend. Hy is meer as kwaad – dis asof hy… Hoe kan hy so… intens vernietigend teenoor iemand voel wat hy glad nie ken nie?

Toe hy opeens wegkyk en onderlangs met Gryskop begin praat, is dit asof ‘n groot hand wat haar brein in ‘n knelgreep vasgehad het, skielik los.

Dit voel of sy gaan val. Sy staan wiegend – oë toegeknyp en baklei teen die donkerte wat haar wil insluk.

Daar, agter haar geslote ooglede flits daar nou vae beelde verby. ‘n Fliek wat sy een of ander tyd lank terug gesien het. Die helderste beeld, die van ‘n donker figuur op ‘n motorfiets.

Sy kan die naam van die fliek, of selfs veel van die storie, nie onthou nie. Net die aakligheid van ‘n vreesaanjaend ongeluk en ‘n brein wat in ‘n ysterliggaam oorgeplant word.

Net in dié fliek – anders as die aanslag wat gewoonlik in die soort van tema gebruik word – het die nie-held sy emosies – sy hart – ook verloor. Net ‘n koue, berekenende logika en ‘n onwrikbare doel het oorgebly.

En al weet sy dat Gryskop besig is om vir haar te pleit, word die bewerasie wat haar oorgeneem het, steeds groter. Dit voel of dit uit haar murg ruk. Seker maar net vertraagde skok…?

Op daardie oomblik steek daar ‘n effense windjie op en Gryskop se stem word tot by haar gedra: “Onthou die Chief gaan nie moord vat nie. Jy sal nie lose nie. Die ander ôk nie. Ek scheme: be off is die regte ding vir ons. Los – leave. Dis nou sad, maar kyk net die poor girltjie.”

Dié keer gee Swartoog Staalman nie bes nie: “Ek los nie wat ek begin het nie. Ek het jou Chief gewaarsku. Dis júlle spul wat hierdie situasie geskep het.”

Die feit dat hy nie soos die ander praat nie, maar ‘n amperse onnatuurlik korrekte Afrikaans gebruik, maak hom net nóg meer onmenslik.

Die wind waai hulle stemme weg, en weer terug. Staalman wat sê: “Ek sal wel iets uitwerk – laat my dink, Benno. Eerstens moet ek gaan keer dat niemand hier aangesit kom nie. En ek vat haar saam.”

Gryskop-Benno hou sy hand pleitend op: “Drich, please…”

Intussen het een van die mans met ‘n perd teruggekom. Die tweede kom met ‘n tassie en ‘n plastiekhouer. Swartoog-Drich ignoreer Gryskop-Benno en swaai hom in een gemaklike beweging tot in die saal.

Die tas en houer word aan die saalboom vasgemaak. En voordat sy haar kom kry, pluk hy haar met sy staalarm op en tot voor hom in die saal.

Sy weet sy behoort haar teë te sit – minstens te probeer – teen die harde bors agter haar rug, maar die stem in haar hare wat haar “Sit stil en bly stil,” toevoeg, verlam haar magteloos.

Sy sit soos ‘n padda in ‘n slang se oogkring.

Flamingcrystal Author
http://www.amazon.com/-/e/B00HMJYX8M

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s