Bloeddorstige Dorings

KOPIEREG © 2015 ​Bloeddorstige Dorings ©Flamingcrystal

Die reg om Flamingcrystal (Marlaine Lloyd) as outeur van Bloeddorstige Dorings te erken, word voorbehou volgens die Wet 98 van 1978

Die son gooi sy laaste flou strale, uitasem na ñ lang dag, oor die stokou kasteel.

Op die boonste verdieping is heelwat van die reuse langwerpige sement stene uit. Dit lyk soos die kake van ñ boemelaar – byna heeltemal haasbek.

Net ñ paar aweregse stene kreun vasberade teen die natuur se elemente. Die wind fluit die laaste taptoe tussen hierdie stene deur.

My oë volg die ligkolle wat die son oor die kasteel gooi. Dit blerts oor die vier splinternuwe voertuie wat ñ klein entjie vanaf die kasteel geparkeer staan. Presies dieselfde ladida Mercedes-Benz M Class 4×4’s maar elk in ñ verskillende kleur, staan soos poue pronkend in die laaste lig van die son.

Goud, silwer, brons en oniks.

Ek hoor ñ skerp, irriterende geluid soos spykers wat oor metaal getrek word.

Verbaas sien ek hoe daar op elke voertuig twee parallel strepe aan die linkerkant ñ handbreedte onder die spieël regdeur tot by die agterste wiel verskyn en dan daar eindig in ñ enkele woord. 

Daar is niemand in sig nie.

Die woorde wat op die voertuie is: Op die goue een ‘Ek’ op die silwer een ‘Sê’ op die brons een ‘Fok’ en op die oniks een ‘Jou’… Die letters begin klein en eindig groot, asof die entiteit wat dit geskribbel het, met moeite sy/haar woede kon beteuel.

Reg voor die kasteel is ñ hangbrug. Die hangbrug is gevorm uit toue waaraan slegs ñ paar planke vasgeknoop is. Party planke is lank en dun. Die res is kort en dik. Die hangbrug het geen toue aan die kante waaraan mens kon vashou nie.
Die brug swaai heen en weer oor wat eens ñ magtige rivier was, maar nou opgedroog het tot ñ armsalige dun stroompie water waarin daar ñ paar paddas witpens na bo dryf.

Uiters nuuskierig stap ek oor die hangbrug na die kasteel.

ñ Reuse houtdeur vorm die enigste sigbare ingang na die kasteel. Daar is geen handsvatsel aan hierdie deur nie. In dieselfde swierige skrif waarmee daar op die voertuie gekrap is, staan hier: ‘Voorwaarts of Vlug. Courage/Failure Times Four.’

Daar is twee enorme hande onder die skrif in die hout gekerf. Elke detail van hierdie hande is perfek. Gekerf soos slegs ñ meester kan.

Die een is ñ oopgesperde hand en aan die onderkant daarvan is ñ hand wat bak hand gehou word. Dit palm daarvan vorm heel duidelik ñ bakkie waarin iets opgevang moes word. Ek bekyk die boonste hand nou deeglik en sien dat daar in elk van die vingerpunte ñ skerp doring uitsteek. Ek besef nou wat hierdie “iets” is wat in die bak hand opgevang moes word… en dat dit die enigste manier is om die deur te laat oopgaan.

Dammit! Ek wat gewoonlik omkap as ek my eie bloed sien, soos wanneer ek perongeluk my vinger raak gesny het, moet nou aspris my vingerpunte in die dorings druk. Ek haal diep asem, sit my handpalm binne hierdie hand, knyp my oë toe en druk my vingerpunte in die dorings.

Die dorings suig letterlik en figuurlik in my vingerpunte vas.

Ek hoor die duidelike suig-slurp geluide soos hanslammers wat aan tietiebottels suig en daarna die woord “Eeuuww” wat vanaf die boonste hand kom.

Verbaas maak ek my oë oop en sien dat die dorings in vlymskerp tande verander het.

Tande wat uit twee bloedbesmeerde rooi monde hang. Geen gesigte. Net twee oop monde… elkeen met slegs twee tande.

Die monde trek so suur skeef asof hulle ontdek het dat dit wat hulle as die waardevolste nektar beskou het, pas in asyn verander het.

Vies spoeg hulle my bloed uit en sorg dat dit nie binne die bak hand land nie. Dit plop in donker kolle langsaan my voete neer.  Ek voel in my ego gekrenk,  seergemaak dat my bloed nie hulle fynproewers toets geslaag het nie.

Woedend skop ek na die twee monde.

Die tande breek af en val op die grond.

Ek trap die tande met my skoen se hak raak en skuur aspris my hak heen en weer oor die tande asof dit grillerige wurms is wat ek wil vermorsel. Die tande kap soos ñ slang se tande vas in my skoen se sool. Daar is nie ñ manier waarmee ek met daardie tande vasgeklem in my skoen sool sal of wil loop nie. Yuk!

Ek skop en skop na die twee hande in die deur. Die bloedbevlekte tande val uit my skoen se sool en land binne in die bak hand.

Met ñ harde kraak geluid, swaai die hout deur oop.

Ek stap na binne.

Duur brokaat gordyne hang voor die vensters. Daar is vier vensters. Voor elke venster hang daar ñ ander kleur gordyne. Die eerste venster het goue gordyne, die tweede silwer, die derde spog met bronskleurige gordyne en die laaste een het oniks-swart gordyne.

Presies dieselfde skakerings as die van die vier Mercedes-Benzes wat buite geparkeer staan.
 
Ek sug en brom hardop “Bleh. Vervelig. Shame die mense wat hier woon is slegs gewoond aan vier kleure…of elkeen baken so sy/haar gebied af.”

ñ Paar meter vanaf die voordeur is ñ sement dam in die middel van die peperduur swart marmer teëls gebou.

Ek skud my kop in ongeloof terwyl ek na die sement dam kyk en wonder kliphard “hoekom juis ñ plaas dam pleks van ñ peperduur onderdak swembad?” Die dam is redelik hoog, omtrent twee meter vanaf die grond en honderd meter in deursnee.

ñ Tou leer is argeloos bo-oor die kant van die dam gegooi.

Op die dam wal sien ek ñ groot weerwolf staan. Die weerwolf het silwerwit maanhare. Sy voorpote, agterpote, rug en breë borskas is oortrek met dieselfde silwerwit hare. Slegs sy pens is daarsonder. ñ Redelike groot pens.

Die wolf spring op en af om iets van die plafon af te probeer kry. Kort kort spring hy so bietjie hoër. Die weerwolf het ñ bruin leer skoen aan sy linker agterpoot en ñ grys velskoen aan sy regter agterpoot. Die veters daarvan is los. Die flappe van die skoene hang soos tonge uit die bekke van troeteldiere op ñ snikhete dag. Elke keer wat die wolf op sy agterpote land, wip sy pens en die skoene se tonge op en af.

ñ Vrou met lang bronskleurige lokke en ñ uitermate spierwit gesig lê met toe oë op die dam se breë wal. Sy het ñ bronskleurige bikini aan. Hemel-hoë bronskleurige stilettos voltooi haar uitrusting. Sy lyk soos ñ model wat uit ñ tydskrif ontsnap het om op die platteland te kom vakansie hou.

Dit is vir my eienaardig dat sy nie wakker word van die wolf se gespringery op die damwal, skaars ñ meter vanaf haar gesig nie.

Ek hys myself teen die tou leer op tot bo-op die dam se wal, en stap nader aan die vrou. Ek sien dat daar twee diep krapmerke vanaf haar nek na haar bors loop. ñ Gat so groot soos ñ man se vuis is tussen haar twee borste sigbaar.

Haar hande is beskermend bo-oor iets gevou. Versigtig lig ek haar hande op om te sien wat sy so daar toehou.

“My genade dit is haar hart!” Roep ek geskok uit.

Die weerwolf stop sy gespringery vir ñ paar oomblikke en grom waarskuwend vir my. Dadelik laat ek die vrou se slap hande weer terugval in hulle oorspronklike posisie. Daarna skenk die weerwolf weer sy volle aandag aan dit wat daar teen die plafon met breë kleefband vasgeplak is.

Ek kyk ook op.

Dit is ñ swartkop vrou wat daar vasgeplak is. Haar mond is ook toegeplak. Sy is geklee in ñ dun deurskynende swart mini rokkie wat skaars haar boude bedek. Mens kan sien dat sy geen bra aanhet nie. Swart visnet sykouse span styf om haar welgevormde bene.

Iets wits steek onder haar kort mini rokkie uit.

Uiteindelik kry die wolf dit reg om hoog genoeg te spring. Sy voorpote haak agter haar rug deur en sy gewig trek hulle na benede. Iets lyk nie normaal aan haar nie. Sy is skielik dun en plat. Soos ñ cartoon karakter wat platgerol is deur ñ padroller. Mens sien net swart omlynde oë en lang bene.  

Terwyl sy so deur die lug trek, wip haar mini rokkie in die lug op. Die iets wits is nou herkenbaar. ñ Baba doek.

Die vrou ruk blitsvinnig die kleefband van haar mond af en sink haar tande diep in die skouer van die weerwolf. Met elke sluk wat sy gee, pof haar liggaam uit.

Drie slukke later tref hulle die water.  

Haar liggaam is nou weer volmaak.

Die weerwolf trek haar nader aan hom. Hy omhels haar. Sy voorpote beskermend oor haar rug gevou. Saam sak hulle na benede.

Die water is liggroen. Mens kan die dik groen alge op die bodem van die dam sien.

In die middel van die dam is daar ñ vierkantige yster deksel. Die vrou stap hand aan hand met die weerwolf onderwater na die deksel. Galant lig hy die deksel op, en beduie vir haar “Dames eerste.” Sy klouter deur die opening na benede.

Voordat die weerwolf haar kon volg, duik ñ mooigeboude vrou in die water. Sy het kort heuningblonde hare. Sy het so vinnig verskyn dat ek nie kon sien hoe oud sy was en watter kleur haar oë was nie.

Die vrou stamp die weerwolf uit die pad. Sy gil iets vir hom. Mens sien net hoe haar mond beweeg en borrels na die oppervlak stuur. Stert tussen die bene klouter die wolf uit die water. Ek sien nou eers al die lyke van middeljarige, oorgewig mans wat langsaan die dam lê. Leeg gesuig en eenkant toe gesmyt. Hulle kon seker nie vinnig genoeg weghol nie.

Ek staan op my tone en leun na vore om beter te kan sien. Ek sien dat daar binne die opening op die bodem iets sigbaar is. Die kristal daarin weerkaats reënboog strale deur die water. Dit lyk na trappe wat na benede lei.

Die blondekop laat vat agter die swartkop vrou aan.

Toe blondie haar voet op die eerste trappie van die spiraal trap neersit, verander sy skielik voor my oë in ñ weerwolf. Wolvin. Whatever. Ek hyg geskok na my asem.

Die manlike weerwolf skud die water uit sy pels en kom druipnat langsaan my op die dam wal sit. Mister Macho frons. Hy staar na die opening waarin die swartkop met die wolvin kort op haar hakke verdwyn het.

“Wie is daardie blondie en die swartkop? Wie het haar teen die plafon vasgeplak? Waarom het sy ñ doek gedra?” Peper ek hom met die vrae. Met sy verskillende soorte skoenpunte skop-skop hy na die water. Soos ñ verontregte kleuter wat na klippe skop.

Die tasbare stilte na my vrae kan mens met ñ mes sny. Dit voel vir my soos ñ ewigheid voordat ek hom hoor praat.

“My vrou en my skelmpie. Haar drie susters het haar teen die plafon vasgeplak om haar uit die pad te kry. Sy het al die mans alleen leeg gesuig, sonder om hulle ook ñ lekseltjie te gee. Hulle verwag ñ toerbus vol gaste wat vanaand die ‘haunted castle’ kom besigtig. Wianca is die baba in die familie. Drie honderd drie en twintig jaar oud. Sy poep gewoonlik erg vrot wanneer sy so gulsig gedrink het. Daarom het haar susters die doek aangesit.” Antwoord hy uiteindelik.

Hy lyk dikbek omdat hy ‘center mister Venter’ met sy hand binne-in die koekie blik betrap is. Hy staar weer ingedagte na die water.

Ek tik hom met my vingerpunt op sy skouer om sy aandag te trek. 

Hy kyk dadelik na my. Sy wenkbrou gelig in ñ ‘wie gee jou die reg om my te poke?’ Mans leer al van baba-dae af om met hulle wenkbroue te kommunikeer.

“Jy lyk nogal na iemand wat ek baie goed ken. Dieselfde geelgroen kleur oë. Dieselfde spierwit hare. Dieselfde soort skoene wat ook so oop flap. Dink dit is oor die groot pens. Seker maar moeilik om die veters raak te sien.” Lig ek hom so ewe in.

Sy oë rek. Dit is duidelik dat hy dit nie verwag het nie. Gewoonlik bewe almal van vrees wanneer hy in die omtrek is.

Lagplooie kreukel rondom sy oë. Sy skouers begin skud. Dan borrel die lag diep uit sy maag. Dit registreer nege op die richterskaal.

Skielik kom Blondie – terug in haar menslike gedaante – in die opening op die bodem van die dam te voorskyn. Oor haar skouer, soos ñ swart sak vol vullis, hang die swartkop.

Wianca sal nooit weer die volkslied deur haar alie kan fluit nie.

Ek hoef ook nie te vra wie die brons poppie se hart uitgeruk het nie. Die genoegdoening op blondie se gesig, toe sy vanaf die hart in haar hand na haar geliefde eggenoot kyk, spreek boekdele. Sy lê die swartkop langsaan haar suster op die damwal neer. Blondie plaas die hart op Wianca se maag en vou Wianca se hande bo-oor haar hart.

Blondie loer na my en grinnik toe sy sien haar geliefde eggenoot roer beslis nie my hartsnare nie.

Sy spoel haar hande in die water af, en steek haar regterhand na my toe uit in ñ groet. “Aangename kennis ek is Charléne. Meneer Romanties daar langsaan jou op die wal, is my eggenoot Rudolf. Next time as ek hom weer met sy hand in die koekie-jar vang, word sy hart ook op sy pens uitgestal.”

Ek sien dadelik die stukkies glansende voertuig verf onder haar naels raak…

Toe Rudolf sy naam hoor verander hy gedeeltelik terug in sy menslike gedaante. Geelgroen oë, skouerlengte spierwit hare en ñ pens wat vêr bo-oor sy drawstring short hang. Die crotch gedeelte van die drawstring short, en die tou wat daaraan hang, is nogsteeds die spierwit pels van die wolf.

Lyk soos kersvader se baard wat op die verkeerde plek beland het. 

Charléne sien dat ek daarna staar en met moeite my lag probeer inhou. Sy bars uit van die lag. “Weet jy, ek like jou, jy is van nou af my beste pel.” Verklaar sy onomwonde.

Ek het beslis nie ñ sê in die saak nie.

“Kom saam, ons moet Silwertjie gaan soek en daarna Miss Goldy gaan takel.”

Dankbaar om deel van die aksie te wees, duik ek saam met haar in die water en swem na die deksel wat die opening op die bodem bedek.

Charléne lig die deksel op. Ons klouter deur die opening, en met moeite trek ons die deksel weer dig toe. Vinnig klim ons met die spiraal trappe na onder. Soos ñ kokon omhels ñ plastiek dreinerings pyp die spiraaltrappe. Charléne druk met haar hand teen ñ wit knop wat op die 3de trap ñ half meter van onder aangebring is.

ñ Gedeelte van die plastiek kokon skuif soos ñ venster oop. Voor ons is ñ lowergroen grasperk. Orals is rose geplant. Verskeie bome se takke swiep laag heen en weer. Asof hul in eerbied voor ‘royalty’ moet buig.

Blondie kruip eerste deur die gat en terwyl sy nog strek om regop te kom, verander sy in ñ wolfin. Sy snuffel ñ paar keer in die lug rondom haar en kies dan koers tussen die bome deur.

Onder een van die bome staan ñ tafel met ñ spierwit tafeldoek daarop.

Ek ruik die koffie toe ek nader kom “flippit ek sal netnou na blondie en haar silwertjie gaan soek. Nou is dit koffie tyd.”

Ek plak my op ñ stoel naby die tafel neer en hark vir my ñ koppie koffie nader.

Oorkant my by die tafel staan ñ pragtige vrou. Ek het nog nooit vantevore so ñ lang vrou gesien nie.

Sy het ñ goue satyn rok aan. Goue oorbelle en sandale rond die prentjie af. Lang goudblonde krulhare tuimel tot by haar heupe. Haar helderblou oë omring met swart oogomlyner kyk my bruin gebrande bene belangstellend en met openlike bewondering aan. Sy lek oor haar lippe. “Jy het pragtige bene. Dit sal nog mooier lyk rondom my nek.” Fluister-praat sy hees.

Ek sug kliphard en antwoord sarkasties “Poplap, indien ek ooit so skeef sou raak soos die Leaning Tower of Pizza, sal ek heel eerste aan jou dink.” 

Sy ken nie die verskil tussen sarkasme en flirt nie.

Sy loop rondom die tafel en vly haarself in die stoel langsaan my neer. “My naam is Gizelle, maar jy mag my jou bokkie noem…”

“Oh Genade! Hier kom groot sports, ek beter flippen vinnig hier wegkom” dink ek benoud.
Presies op daardie oomblik blits ñ skraal meisie met vlasblonde hare in ñ dik franse vlegsel, geklee in ñ silwer katpak en silwer sandale, waarvoor ñ mens lewensversekering moet uitneem om mee te loop, by ons verby.

As ñ weerligstraal menslik moes wees, sou dit seker so gelyk het.

“Dankie tog, sy is net betyds om Goldy Locks se gedagtes in die kiem te smoor” prewel ek saggies. “Keer haar! Ek soek Silwertjie se sandale!” Hoor ek Charléne se stem nog voordat sy om die boom gehardloop kom. 

Ek spring op om Charléne agterna te sit, maar Gizelle gryp my aan my bo-arm en ruk my terug. Haar naels het my arm plek-plek stukkend gekrap. Bloed loop in ñ dun straaltjie teen my arm af.

Gizelle snuif-snuif so in die lug. Sy het bloed geruik. Haar oë raak glasig.

Blitsvinnig vryf sy met haar vinger oor die bloed op my arm en sonder om twee keer te dink, druk sy haar vinger in haar mond en lek die bloed af. Twee lang dun oogtande verskyn in haar mondhoeke.

Sy strek haar hand na my toe uit vir ñ tweede porsie.

Ek wip my gat vir haar.

My A+ bloedgroep is skaars. Ek is nie van plan om dit met ñ vampier te deel nie.

Grrrr grom ek vir haar. Ek hap na haar hand en byt dit morsaf. Haar hand val op die tafel. Dit beland langs die blink stainless-steel suiker pot. Ek knipoog vir myself in die suiker pot.

ñ Weerwolf knipoog vir my terug…
——-
Ek het myself wakker gelag.

Hierdie is ñ droom wat ek gehad het, vroegoggend op die 31ste Desember 2015. Op oujaarsdag… My dogter het my hoor lag en my kom vra waarom lag ek so lekker. Ek het haar die droom vertel, en sy het aangedring dat ek dit moes neerskryf.

Dit het my ñ hele week geneem om dit neer te skryf. Waar ek voor my eerste rugoperasie 3000 woorde in ñ DAG kon kafdraf omdat ek met beide my hande gelyktydig kon tik, neem dit my nou ñ WEEK omdat ek nou slegs met een hand kan tik.

Danksy ñ dokter wat ñ gemors van my rugoperasies gemaak het, en veroorsaak het dat al my werwels insluitende my nekwerwels (wat voorheen niks makeer het nie) ineengetuimel het agv skroewe se ‘rods’ wat te styfgetrek was… My nekwerwels knyp die senuwees vas wat my linkerhand beheer en veroorsaak dat my hand lam raak. Ek het nog soveel stories wat ek so graag wil skryf, maar dit frustreer my grensloos om nou so stadig te tik… dit laat my ook die helfte van die goed vergeet wat ek WOU tik. *sug*

#gratis eboeke https://www.smashwords.com/profile/view/Flamingcrystal

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s