Wie kan my help met die betekenis van hierdie droom, asseblief?

Ek droom ek is by ñ groot huis. Ek staan buite. Reg rondom die huis is daar pynappel lande en die pynappels is stokstyf teenaan mekaar in hopies geplant. Op elke hopie sit daar 10 goudgeel ryp pynappels. Orals staan wit plastieksakke wat oorvol geplukte pynappels is. Sommige sakke is vol afgeskilde pynappels, ek tel een sak op en die stroop spuit uit die plastieksak wat skielik oral gate het en maak my vol soet taai stroop.
Ek gaan in die huis in en soek na die badkamer en stort. Ek staan in hierdie groot huis se stort onder die water en na ek klaar is, draai ek die kraan styf toe, en soek my handdoek. Dis skielik weg. Die stort se muur vorm n hoek dat mens nie vanaf die oop koepel ingang gesien kan word nie, maar sodra jy uitstap is daar groot vensters sonder gordyne waar die wat buite sit mens duidelik binne kan sien. Daar sit twee ousies buite en hul lag toe ek terugspring in die stort in, sodat hul my nie so moet aangaap nie. 

Ek wou eers gebad het in die groot vertrek langsaan waar daar geen venster is nie, maar daar was geen prop in die bruin keramiek bad nie.

Dis skielik onheilspellend donker in die huis, donkerte so dig soos ghries.

Ek glip uit die stort na my slaapkamer om te gaan aantrek. Ek maak die deur toe, my swaer se 12jarige seun roep na my, ek antwoord hom “moenie inkom nie, ek is besig om aan te trek” maar die klein helsim vee sy gat aan my versoek af, en stap sonder om te klop my slaapkamer binne. Hy sien ek is kaal, en hy roer nie n ooglid nie. Hy staar my aan. Ek jaag hom uit my kamer “Jy luister nie wanneer mens met jou praat nie, gaan uit. Hierdie is my kamer en jy skend my privaatheid.” Hy wip sy gat en storm deur toe met die woorde “jy dink jy is beter as ander, in ons huis mag ek maak soos ek wil” en hy klap die deur so hard toe dat dit uit sy skarniere ruk en op die grond val. My hande bewe van woede oor die ongeskikte ongemanierde kind.

Ek trek n wit bloes en stywe rekbare blou jeans aan. Ek soek my borsel om my hare te borsel want dit krul in alle rigtings na die stort.

My sussie kom na my toe aangestap. Ek sien my oorlede man kom ook die huis binne en hy hardloop agter my sussie aan en vat aan haar boud. Sy klap sy hand weg en sis so tussen haar tande deur vir hom “ek het jou gesê, bly weg van my af!Hou jou hande van my af en los my uit! Ousus sien jy, jou man maak ñ oorlas van homself, dis die dat ek nie by jou wil kom kuier nie. Dis Sondag, ek hoop ek kry ñ hotel iewers oop.” Ek antwoord haar “ek sien hoe hy maak, dis snaaks dat hy nou hier opdaag. Hy is dan al 6 jaar gelede oorlede!”

Ek sien hoe my oorlede man hom vererg en wegstap. Hy loop krom gebuig en dit klink of sy heupe kraak met elke moeilike tree wat hy gee. Hy stap so vooroor geboë soos ñ ou man van 80 en nie soos een wat nou 52 sou wees nie.

“Sussa wag! Ek kom saam met jou” roep ek uit, en ek wil my klein denim handsakkie vat waarin my beursie is. My sussie het ñ spierwit gehekelde groot, ronde handsak met twee hout handvatsels. Ek oehh en aahh oor haar mooi handsak. Sy maak die handsak oop en haal ñ ander kleiner wit langwerpige gehekelde handsak, ook met hout handvatsels aan, uit haar handsak en druk dit in my hande “ousus ek het spesiaal vir jou ook een gekoop, ek het geweet jy sal graag een wou hê” Ek is so bly daaroor en gee haar ñ soen en drukkie en sit my klein denim handsakkie sommer dadelik binne die wit handsak.

Ek klim saam met my sussie in haar kar. Ons ry omtrent ñ uur en die paadjies waarin ons ry is van klein ronde wit klippies gemaak. Die huise oorkant die straat is so naby aan die paadjie gebou dat slegs een kar op n keer daar kan deur ry. Orals is inhamme waarin ander karre staan en hul beurt afwag om te ry. Ek vra “waarheen gaan ons?”

My sussie hou meteens stil en antwoord “ons is hier…” Sy steek haar hand by die kar se venster uit en druk ñ knoppie teen die muur van die huis. Die muur lig op en ons word met kar en al die huis binne gestoot. Daar is niemand in sig wat ons stoot nie. Ons klim uit en ontmoet my sussie se vriende. Die hele familie is daar om ons te sien. Daar is ñ jong meisie, haar ouma, haar pa en haar ma en ook haar ma se broer.

Hy is aantreklik. Hy annekseer my sommer dadelik en tel my op en dra my na die sitkamer waarop hy my op n bank so groot soos n dubbelbed neerlê, en hy kom langsaan my lê en nie vir een oomblik los hy my hand nie. Ons bly die hele tyd vir mekaar kyk, en glimlag vir mekaar. Die hele familie en my sussie kom sit by ons en ons almal gesels so lekker met mekaar.

Skielik kry die mense n oproep. Die foon is op speaker gestel. Dit klink soos my oorlede man se stem. Hy lig hulle in dat die voertuig waarin ons ry n gesteelde voertuig is. Ek antwoord hom dadelik “Suur druiwe. Sus gee gou jou voertuig besonderhede aan…” Sy haal dit uit haar handsak en ek wys die mense terwyl ek hardop lees “die voertuig behoort aan mevrou H.C. L” en ek smyt die foon dadelik daarna in sy oor neer. Die mense is geskok dat hy so laag daal om my sussie van voertuig diefstal te beskuldig, om sodoende te probeer verseker dat sy gevang moes word en nie die dorp sou kon verlaat nie.

Ons groet later die mense en ek was skoon hartseer toe ons moes ry omdat dit die eerste keer was dat ek so lekker saam met my sussie by haar vriende, sulke dierbare mense, kon kuier.

Advertisements

5 thoughts on “Wie kan my help met die betekenis van hierdie droom, asseblief?

  1. Ek dink drome is baie deurmekaar, met elemente van jou gevoelslewe en ander indrukke uit jou lewe, en dit vloei inmekaar in iets wat soos ‘n verhaal afspeel, soos hierdie. Maar hulle het nie werklik ‘n spesiale betekenis nie – dit dit is maar net jou brein wat op so ‘n manier indrukke en emosies verwerk en liaseer.
    In sommige gevalle kan dit dalk ook wees hoe hou brein oor dinge nadink. In jou geval miskien ‘n nuwe storie wat uitgedink word?

    Like

    1. Dankie dat jy ingeloer en geantwoord het, Eelt. Ek waardeer dit. Op hierdie stadium dink ek nog nie nuwe stories uit nie, daar is reeds twee wat baklei om die lig te sien… Ek gaan binne die volgende 3 maande nog n rugoperasie ondergaan. My derde. Eerste twee n gemors van epidermiese proporsies (soos oubaas van 7de laan/traan altyd sê) Ek het regtig n kenner se raad oor hierdie drome nodig, oor die ontbreking van gordyne (mense wat sonder toestemming in my diepste wese wil rondgrawe?) Oor die aantal kere wat die kleur wit asook bruin voorkom. Oor my oorlede eggenoot na 6 jaar nog in my drome instap. Oor die voertuig wat gestoot word sonder iemand in sig…

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s