Uit die mond van die suigeling… die muisnes

So gesels ek en ñ vriend op whatsapp oor ons kinders se mannewales. Uit die bloute vra hy “wat was jou mees ’embarrassing moments?” Sonder om eens daaroor na te dink antwoord ek “twee vreeslike moments!” Blitsig verskyn sy boodskap op my skerm “Vertel!”

In my gedagte sien ek hoe hy homself regskuif op die stoel en vasgenael na sy foon se skerm staar terwyl hy gretig wag dat ek verder moes skryf.

Dankie tog whatsapp wys ek is besig met “typing” want ek duimik so stadig dat hy heel moontlik kon dink ek het either aan die slaap geraak óf vergeet ek was besig om te tik. Middeljarig. So enige iets is moontlik.

Ek vertel hom die episode toe my oudste dogter twee jaar oud was en my so in die skande gesteek het in die OK in Kroonstad.
Hoe die geskiedenis homself herhaal en my jongste dogter, ook op twee jarige ouderdom, my so laat skaam kry het in die kerk.
Die kerkstorie vertel ek in my volgende ‘post’…

Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek en my dogtertjie loop daardie vreeslike oggend die OK in, ek was opsoek na ñ spesifieke langspeel plaat. Daardie tyd was daar nog nie cd’s met musiek op nie. Ingedagte staan ek na die plate se omslae en kyk.

Ek voel hoe my dogtertjie my aan my denimbroek pluk om my aandag te trek. Sy fluister “mamma kyki tannie se hale (sy kon nog nie mooi die ‘r’ sê nie.) Ek kyk om. Daar staan ñ vrou met die hoogste byekorf haarstyl in die geskiedenis vanaf Moses tot die modeslawe. Selfs ek staan verstom. Die wag voor my mond het ek seker uit skok raakgebyt want al wat ek kon uitkry, was ñ sagte fluistering “muisnes se moses.”
Sy buk af na my dogtertjie en vra in ñ skril stem wat tot vir Lasarus uit die dood sou kon opwek “dink jy ook my hare lyk mooi?”

My dogtertjie steek haar vingertjie versigtig uit na die haarkapsel en druk-druk daaraan “waar is die muise dan tannie? Mamma sê dis ñ muisnes…ek dinki tannie se hale lyk mooi nie, dit lyk sos moses” in dieselfde asem praat sy met my “mamma ek dinki tannie se hale lyk k#k.”

Die vrou vlieg op asof sy met haar agterkwart in ñ byenes gaan sit het, en storm vol verwensings by die OK se deur uit.

ñ Paar maande later tref die blinde sambok ons. Mens word mos tot in jou 20ste nageslag gestraf as jy verwens word.

Ek en my dogtertjie het gery met ons liggeel Volkswagen Golfie na Manny’s supermarket toe om ñ dosyn eiers te gaan koop.
So kos daardie eiers wat net R2 sou gekos het, ons toe op die einde altesame R800. Ja jy lees reg! Agthonderd rand.
Waar ek geparkeer het, moes ek met ñ boog agteruit ry om die lamp paal te mis en uit die parkeer area te kom. Ek konsentreer so om mooi daar uit te ry en skrik my in ñ ander sterrestelsel en bloedgroep in, toe ek ñ voertuig skielik naby my hoor toeter druk.
Ek los die koppelaar en trap perongeluk die petrol pedaal. Vlieg bo-oor die sement ‘barrier’ binne in die lamp paal vas.

Die persoon wat aspris haar Mercedes se toeter daardie dag so aanhoudend gedruk het, was niemand anders nie as daardie selfde byekorf-haarstyl vrou!

Toe ek in trane by die huis aankom, was my man meer ontsteld oor die golf as oor my trane.
Hy het gelyk soos ñ brombeer wat met sy agterkwart in die pendorings geland het.

Die paneel klopper het ons R798 gevra om die duik uit die Golf se agterkwart te haal en dit te respray.